*Magnify*
SPONSORED LINKS
Printed from https://www.writing.com/main/view_item/item_id/1143181-Bertus-Bos-word-n-Seerowerkaptein
Rated: E · Other · Children's · #1143181
Fantastic treasure hunt for Grandpa's spectacles - Written in Afrikaans
Dis vroeg-vroeg op ʼn Saterdag
en Bertus Bos spring uit die bed
want hy kan hoor daar’s iewers fout
en hy sal iemand moet gaan red.

Oupa Daan is in die groot kombuis,
en lyk ʼn bietjie kwaad.
Sy leesbril het spoorloos verdwyn
en nou het Oupa Daan geen raad.

“Ek wil die koerant oor die rugby lees,”
kla Oupa toe hy bedaar.
“My span het gisteraand gespeel;
ek wil weet hoe het hulle gevaar.”

Bertus eet gou sy mieliepap,
want hy’t ʼn plan bedink
Wat hulle moet doen is ʼn skattejag hou,
en dan sal hul Oupa se bril kan vind.

Bertus vertel vir Oupa Daan
van sy baie slim skattejag-plan.
Oupa dink dis ʼn bakgat idee,
en so begin hulle dan.

“Maar wag net gou,” sê Oupa Daan.
“Ons het iets vergeet.
Net seerowers kan mos skatte jag.
Het jy dit nie geweet?”

Bertus Bos dink hard en sê:
“Ek het ʼn kwaai idee.
Ons kan ook mos seerowers word,
wat uitvaar op die see.”

By Mamma kry Bertus ʼn kopdoek
maar daar is nog iets wat kort.
Sy teken vir hom ʼn groot, swart snor –
nou het Bertus ʼn regte seerower geword!

Oupa Daan lyk klaar soos een,
want hy’t ʼn groot grys baard.
Bertus soek nog net een ding,
ʼn ou besemstok vir ʼn swaard.

Oupa Daan is ook seerowerkaptein,
hy dra ʼn mooi, groot hoed.
Hy sê dat Bertus kaptein mag wees,
as Bertus wys hy’t moed.

Die hoed is blou met vere in,
die vere is geel en rooi
met ʼn seerowerteken wat blink soos goud.
Dis vir Bertus al te mooi.

Eerste soek hul in die woonkamer,
dit lyk soos ʼn woestynland.
Die banke is nou kamele,
wat stadig stap al deur die sand.

Maar nêrens in hierdie groot woestyn,
kan hul die skat tog kry.
Bertus soek op elke plek
terwyl hy bank-kamele ry.

Oupa se kamer word nou deursoek,
met water wat orals vloei.
Gelukkig is Oupa se dubbelbed
ʼn boot waarin hy roei.

Bertus moet in die water duik
om onder die boot te soek.
Daar kry hy ook nie die leesbril nie,
maar wel Oupa se ou bruin broek.

“Nou toe nou,” sê Oupa verbaas,
“Ek het gewonder waar dit was.
Bertus, duik sommer weer daar af,
en soek gou na my groen das.”

Bertus spring weer in die water in
en word dan amper bang.
Want die groen das swem verby,
dit lyk nou soos ʼn slang.

Vinnig ruk Bertus sy besemswaard uit
en steek dit reg deur die slang.
Oupa Daan is baie trots
dat Bertus sy das kon vang.

Buite in die groot groen tuin
wat nou soos ʼn oerwoud lyk,
soek Oupa en Bertus op elke plek
waar hul seeroweroë kan kyk.

Dan sien Bertus die skat voor hom
aan die nek van ʼn slapende draak.
Die draak lyk soos Zorro, sy hond,
Maar maak dit nou regtig saak?

Met ʼn kreet spring Bertus op die draak se rug
en gryp hom aan die stert.
Voor Zorro, die draak, hom weer kan kry
ry Bertus hom soos ʼn perd.

Bertus gryp gou Oupa Daan se bril
en spring weer van Zorro af.
Hy is bang die draak raak netnou kwaad
en begin dan vuur te blaf.

Oupa Daan is bly om te sien
dat Seerower Bertus die skat kon kry.
Oupa gee hom ʼn pepperment,
omdat hy die draak so rats kon ry.

Bertus word ook goed beloon
want Oupa Daan sê mos
vir sy dapperheid verdien hy die blou hoed
nou is hy Kaptein Bertus Bos!

© Copyright 2006 Oswald Petrulli (shrekugly at Writing.Com). All rights reserved.
Writing.Com, its affiliates and syndicates have been granted non-exclusive rights to display this work.
Printed from https://www.writing.com/main/view_item/item_id/1143181-Bertus-Bos-word-n-Seerowerkaptein